Wednesday, April 24, 2013

Nagtelike besoekers

Daar breek 'n oomblik in elke immigrant se lewe aan wat jy besef:  NOU is jy tuis in 'n ander land.  My oomblik het saam met twee raccoons oor die heining aangesluip.

My man roep my een aand opgewonde vanuit die kombuis, en eers wil ek hom ignoreer want ek's seker hy's weer opgewonde oor Android se nuwe sagteware of iets dergeliks.  Maar die keer is dit legitiem:  buite ons agterdeur snuffel twee raccoons!  Regte, egte, pegte raccoons (wasbere?!) met dik swart-en-wit pelse en pote wat soos handjies lyk.

Hiert so wasbeer


Hulle het om die oop kombuisdeur gesnuif agter die katkos aan, en my katte was teen daardie tyd goed vies vir die ongenooide indringers.  Ons het kos vir hulle gegee en fluisterend-opgewonde gekyk hoe hulle dit girts-girts opvreet, bedrewe met die klein pootjies.


'n Happie asseblief?

Dit was so opwindend dat ons summier fotos vir al ons vriende en bure hier gestuur het, en hulle reaksie was min-of-meer:  'eeeeeeuuuugh!'  Blykbaar is wasbere 'n pes en moet mens hul ten alle koste nie voer nie.  As hulle jou as kosverskaffers 'aanneem', sal hul skynbaar weldra jou huis oorneem op soek na peuselhappies. Soos in 'search and destroy'.  En die pels wemel van luise, vlooie, hondsdolheid, austerity measures en ander pestilensies.

Vir ons was dit 'n GROOT oomblik, want so iets sou ons nooit in SA sien nie (wel slange, ape, reuse spinnekoppe en akkedisse). En ook nie in Skotland nie (tuiste van eekhorinkies, swart voëls, soms 'n krimpvarkie).  Maar 'n raccoon IS Amerika, en hulle het my behoorlik lekker laat kry.


Hoe dit ruik en ander dinge

Die gematigde klimaat en plantegroei herinner sterk aan Suid Afrika.  Ons het in 'n waas hier geland na 'n lang vlug en spanningsvolle drie maande van regmaak, inpak, afsluit en afskeid.  Ek kan so goed onthou hoe ek na prentjies van woonstelle en huise hier gekyk het, en my kop probeer oortuig dis waarheen ons regtig trek.  Maar toe ons land was dit besonders om die bloekombome te sien; hier net so pes soos in SA.   'n Welkome pes.  Dis verder nou Lente en die tuine is vol reuke van die huis:  perskebloeisels, rose en so meer. En stinkgoggas, wanneer laas het ek 'n stinkgogga gesien!

My gunsteling die tyd van die jaar vir jasmyn, en bloeisels.  Dit is nou die seisoen wat bome vol belofte van komende vrugte raak.  Baie mense laat egter hul vrugte vergaan, dis erg om verby 'n boom te stap wat kreun van lemoene/pruime/suurlemoene/loquats. Toe ek jonk was, het ek en my broer gereeld gaan perskes steel by ons buurman.  Hier sal ek dit nie waag nie - te bang vir al die gewere.

'n Suurlemoenboom in ons straat

Thursday, April 5, 2012

Die nuwe wêreld

Ons bly nou al amper 'n jaar lank in Kalifornieë.   My agtervolgers sal weet dat ons vanuit Skotland getrek het. Ons het nie agter groener gras aangetrek nie, want 'n groener omgewing as Skotland kan sekerlik nie bestaan nie.  Maar die fertilizer - in ons geval visas -  het skaars geraak en aangesien my man se werk ons 'n onweerstaanbare aanbod gemaak het, het ons nie weerstaan nie en pad gevat.

Eintlik het ons terug na die son getrek.  En noudat ek uit daardie bedompige, klam en grou plek ontsnap het, mag ek erken dat ek die son ontsettend gemis het.  My kind het al geleer om elke dag te skree:  'Kyk mamma, SON!' omdat ek dit heeltyd aan hom uitwys.

Dis anders hier, meer as enigiets wat ek voorheen teegekom het.  Op soveel subtiele maniere is die Verenigde Koningkryk bekend aan 'n Suid Afrikaner:  die kos, die opvoedkundige stelsel, die godsdiens, die humorsin.  Die skok van die nuwe wêreld, of Big Country aka Bill Bryson, gaan 'n lang tyd vat om te verwerk en te verwoord.  Selfs Bill Bryson, gebore in Amerika, se boek is in VSA onder die titel I'm a Stranger Here Myself uitgegee- ek kon dit nie beter gestel het nie.