Wednesday, November 20, 2013

My son is an American

Om die keuse te maak om in 'n vreemde land te bly, beteken jy moet vrede maak dat jou kind uiteindelik 'n ander taal as jy gaan praat.
Photo courtesy James Chapman

Ons praat slegs Afrikaans in die huis met ons seun, maar dit gaan soms hinke-pinke.   Vir 'n ruk na ons aankoms het hy slegs Afrikaans met ons gepraat, maar dit het geleidelik oorgeslaan na net Engels.  Of 'n bietjie Afrikaans met 'n swaar Amerikaanse aksent.  Is ek jammer daaroor?  Natuurlik.  Taal is meer as net woorde.  Dit bevestig ons geskiedenis, agtergrond en erfenis, en ek is trots op wie ons is.  Maar wat gedaan?  Ons kan seker probeer om 'n Afrikaanse taalkurrikulum vir laerskool en hoerskool op te spoor en met ander Afrikaanses iets aan die gang probeer kry.  Maar op 'n stadium moet jy vra: why bother?  Afrikaans gaan seker nooit in 'n groot wereldtaal ontpop nie (ons het ons kans gehad, haha) en so vreemd soos dit ook soms klink, my seun word nou 'n Amerikaner.  Of African American, soos my neef, wie ook in Amerika bly, se kind sy onderwyser meegedeel het.

Baie van sy maats wie se ouers uit lande soos Frankryk, Japan, Swede en China kom, kry ekstra onderrig in hulle moedertaal.  Dit verg dissipline, want die klasse vind meestal na skool plaas, en die onderrig behels dikwels lang ure, onvanpas tye (laat op 'n Vrydagaand, enigiemand?) en baie ekstra huiswerk.  Van hierdie vriende gaan eendag terugkeer na hulle tuislande, so die opofferings maak sin.  Vir ander is dit 'n imperatief.
Photo courtesy txvalues

Ander lande se regerings maak ook ruim finansiële bydraes om hul land se moedertaalonderrig in die buiteland te ondersteun.  Toe die Sweedse ma my ernstig vra: "Would your government not pay for an Afrikaans school over here?" het ek net gelag.  Selfs al sou my regering dit miskien vir Afrikaans doen—ek twyfel sterk—wat van die 10 ander nasionale tale?  So dis prakties en ideologies onmoontlik.

My seun sal nooit vergeet waar hy vandaan kom nie.  Terwyl hy gepotty train het,  het hy kwansuis gereeld uitgeroep:

 "Flush loo, down the toilet aaaaaaaaall the way to Cape Town."


1 comment:

  1. Hallo, dis Phil stigter en omroeper van Radio X5 Stereo. Ons is n onafhanklike digitale radiostasie en trots afrikaans. Ons saai wereldwyd uit en het tans 41 unieke luisteraars van Amerika, asook van ander lande wat elke dag saam in luister. Ek hou van jou unieke skryf styl en dat jy ook Afrikaans op jou blog bemark.

    Graag verneem ek of jy nie dalk n potgooi vir ons unieke radio stasie will maak nie, wat dan weekliks uitgesaai sal word op Radio X5 Stereo. Jy kan ook n artikel skryf wat dan voorgelees sal word op my program weekliks.

    Ek hoor graag van jou.

    ReplyDelete