Wednesday, November 20, 2013

My son is an American

Om die keuse te maak om in 'n vreemde land te bly, beteken jy moet vrede maak dat jou kind uiteindelik 'n ander taal as jy gaan praat.
Photo courtesy James Chapman

Ons praat slegs Afrikaans in die huis met ons seun, maar dit gaan soms hinke-pinke.   Vir 'n ruk na ons aankoms het hy slegs Afrikaans met ons gepraat, maar dit het geleidelik oorgeslaan na net Engels.  Of 'n bietjie Afrikaans met 'n swaar Amerikaanse aksent.  Is ek jammer daaroor?  Natuurlik.  Taal is meer as net woorde.  Dit bevestig ons geskiedenis, agtergrond en erfenis, en ek is trots op wie ons is.  Maar wat gedaan?  Ons kan seker probeer om 'n Afrikaanse taalkurrikulum vir laerskool en hoerskool op te spoor en met ander Afrikaanses iets aan die gang probeer kry.  Maar op 'n stadium moet jy vra: why bother?  Afrikaans gaan seker nooit in 'n groot wereldtaal ontpop nie (ons het ons kans gehad, haha) en so vreemd soos dit ook soms klink, my seun word nou 'n Amerikaner.  Of African American, soos my neef, wie ook in Amerika bly, se kind sy onderwyser meegedeel het.

Baie van sy maats wie se ouers uit lande soos Frankryk, Japan, Swede en China kom, kry ekstra onderrig in hulle moedertaal.  Dit verg dissipline, want die klasse vind meestal na skool plaas, en die onderrig behels dikwels lang ure, onvanpas tye (laat op 'n Vrydagaand, enigiemand?) en baie ekstra huiswerk.  Van hierdie vriende gaan eendag terugkeer na hulle tuislande, so die opofferings maak sin.  Vir ander is dit 'n imperatief.
Photo courtesy txvalues

Ander lande se regerings maak ook ruim finansiële bydraes om hul land se moedertaalonderrig in die buiteland te ondersteun.  Toe die Sweedse ma my ernstig vra: "Would your government not pay for an Afrikaans school over here?" het ek net gelag.  Selfs al sou my regering dit miskien vir Afrikaans doen—ek twyfel sterk—wat van die 10 ander nasionale tale?  So dis prakties en ideologies onmoontlik.

My seun sal nooit vergeet waar hy vandaan kom nie.  Terwyl hy gepotty train het,  het hy kwansuis gereeld uitgeroep:

 "Flush loo, down the toilet aaaaaaaaall the way to Cape Town."


Tuesday, May 14, 2013

Onderwys...bowys....tussenin-wys

As onderwyser het ek al baie beleef in die drie lande waar ek onderwys gegee het:  Suid-Afrika, Engeland en Skotland.  (Tegnies is Skotland deel van Brittanje, maar in praktyk heelwat anders).  Onderwys en onderrig is op 'n basiese vlak orals dieselfde, en dis kulture wat die verskil maak, eerder as tegnieke, leerplanne ensovoorts.  Iemand het my wel op 'n interessante ding gewys:  in Brittanje vertrou mense die staat met gesondheidsdienste, maar nie die onderwys, en in VSA is dit andersom. Mense hier stuur hul kinders staatskole toe maar vertrou nie die staatgesubsidiëerde gesondheidsorg nie.  Weet nie hoe dit tans in SA gaan nie, maar toe ek laas daar was, was ons meer soos die Amerikaners as die Britte.

Meeste van my vriende in Suida Afrika stuur deesdae hulle kinders na privaatskole, behalwe as jy naby 'n fancy staatskool bly. (En daarvoor moet ook ruim betaal word, as ek reg verstaan).  In Engeland was dit 'n 'postcode lottery' wat skole betref, en moet jy baie opdok om óf in die regte area to woon, óf om plek in privaatskool te kry. Skotland is bekend vir sy privaatskole, alhoewel ek geen probleem ondervind in die staatskole nie.  Sommige was beter as ander, maar almal is oor die algemeen goed.

Hier in CA hang dit ook grootliks van waar jy bly af.  Ons bly aan die noordekant van ons straat, in 'n goeie (onbeskostigbaar-om-in-te-koop) buurt, maar die laerskool in ons zone is baie 'swak' - volgens die webwerf Greatschools wat elke skool volgens 'n puntestelsel gradeer.  Skole word oor dieselfde kam geskeer, naamlik die API toetsuitslae: "The API reflects year-over-year schools performance based on STAR test score results", en ons laerskooltjie kry 'n skamele drie uit tien.  Vir díe area is dit 'n skande, maar na 'n bietjie rondsnuffel kom ek die volgende agter:

1.  Die toetsresultate word volgens etnisiteit gegradeer.  En by ons laerskooltjie doen die Hispanics (Meksikaanse Spaanse) die slegste.  En die gradering wys resultate volgens geslag en ouderdomsgroep.
2.  Die studente word in etniese subgroepe verdeel (59% van die skool is Spaans) en hoeveel punte elke etniese subgroep presteer. (Asiërs kry 9, Spaans kry 1)

In Suid-Afrika sou hierdie tipe verdeling 'n oproer veroorsaak het.  Baie van die Meksikane is immigrante, onwettig of wettig, en praat/skryf/lees nie besonder goed Engels nie.  Meksikaanse ouers word daarvan beskuldig dat hulle nie hul kinders met huiswerk help nie, nie gereeld vir hul kinders lees nie, en dat opvoeding nie belangrik geag word nie.  Maar ek weet nie hoe jy jou kind met huiswerk/lees help as jy twee aaklige jobs gelyktydig moet doen om kos op die tafel en klere aan jou lyf te kry nie.  Want die ander statistiek is duidelik:  61% van die kinders by die skooltjie kom vir gratis middagete in aanmerking. (Dit is a fasiliteit by skole vir lae inkomste families)

Maar net voor mens gemaklik raak en dink jy verstaan hoe die plek werk, ry daar iemand met sy groot monstervoertuig by jou verby met hierdie agterop:


Regtig!





Wednesday, April 24, 2013

Nagtelike besoekers

Daar breek 'n oomblik in elke immigrant se lewe aan wat jy besef:  NOU is jy tuis in 'n ander land.  My oomblik het saam met twee raccoons oor die heining aangesluip.

My man roep my een aand opgewonde vanuit die kombuis, en eers wil ek hom ignoreer want ek's seker hy's weer opgewonde oor Android se nuwe sagteware of iets dergeliks.  Maar die keer is dit legitiem:  buite ons agterdeur snuffel twee raccoons!  Regte, egte, pegte raccoons (wasbere?!) met dik swart-en-wit pelse en pote wat soos handjies lyk.

Hiert so wasbeer


Hulle het om die oop kombuisdeur gesnuif agter die katkos aan, en my katte was teen daardie tyd goed vies vir die ongenooide indringers.  Ons het kos vir hulle gegee en fluisterend-opgewonde gekyk hoe hulle dit girts-girts opvreet, bedrewe met die klein pootjies.


'n Happie asseblief?

Dit was so opwindend dat ons summier fotos vir al ons vriende en bure hier gestuur het, en hulle reaksie was min-of-meer:  'eeeeeeuuuugh!'  Blykbaar is wasbere 'n pes en moet mens hul ten alle koste nie voer nie.  As hulle jou as kosverskaffers 'aanneem', sal hul skynbaar weldra jou huis oorneem op soek na peuselhappies. Soos in 'search and destroy'.  En die pels wemel van luise, vlooie, hondsdolheid, austerity measures en ander pestilensies.

Vir ons was dit 'n GROOT oomblik, want so iets sou ons nooit in SA sien nie (wel slange, ape, reuse spinnekoppe en akkedisse). En ook nie in Skotland nie (tuiste van eekhorinkies, swart voëls, soms 'n krimpvarkie).  Maar 'n raccoon IS Amerika, en hulle het my behoorlik lekker laat kry.


Hoe dit ruik en ander dinge

Die gematigde klimaat en plantegroei herinner sterk aan Suid Afrika.  Ons het in 'n waas hier geland na 'n lang vlug en spanningsvolle drie maande van regmaak, inpak, afsluit en afskeid.  Ek kan so goed onthou hoe ek na prentjies van woonstelle en huise hier gekyk het, en my kop probeer oortuig dis waarheen ons regtig trek.  Maar toe ons land was dit besonders om die bloekombome te sien; hier net so pes soos in SA.   'n Welkome pes.  Dis verder nou Lente en die tuine is vol reuke van die huis:  perskebloeisels, rose en so meer. En stinkgoggas, wanneer laas het ek 'n stinkgogga gesien!

My gunsteling die tyd van die jaar vir jasmyn, en bloeisels.  Dit is nou die seisoen wat bome vol belofte van komende vrugte raak.  Baie mense laat egter hul vrugte vergaan, dis erg om verby 'n boom te stap wat kreun van lemoene/pruime/suurlemoene/loquats. Toe ek jonk was, het ek en my broer gereeld gaan perskes steel by ons buurman.  Hier sal ek dit nie waag nie - te bang vir al die gewere.

'n Suurlemoenboom in ons straat

Thursday, April 5, 2012

Die nuwe wêreld

Ons bly nou al amper 'n jaar lank in Kalifornieë.   My agtervolgers sal weet dat ons vanuit Skotland getrek het. Ons het nie agter groener gras aangetrek nie, want 'n groener omgewing as Skotland kan sekerlik nie bestaan nie.  Maar die fertilizer - in ons geval visas -  het skaars geraak en aangesien my man se werk ons 'n onweerstaanbare aanbod gemaak het, het ons nie weerstaan nie en pad gevat.

Eintlik het ons terug na die son getrek.  En noudat ek uit daardie bedompige, klam en grou plek ontsnap het, mag ek erken dat ek die son ontsettend gemis het.  My kind het al geleer om elke dag te skree:  'Kyk mamma, SON!' omdat ek dit heeltyd aan hom uitwys.

Dis anders hier, meer as enigiets wat ek voorheen teegekom het.  Op soveel subtiele maniere is die Verenigde Koningkryk bekend aan 'n Suid Afrikaner:  die kos, die opvoedkundige stelsel, die godsdiens, die humorsin.  Die skok van die nuwe wêreld, of Big Country aka Bill Bryson, gaan 'n lang tyd vat om te verwerk en te verwoord.  Selfs Bill Bryson, gebore in Amerika, se boek is in VSA onder die titel I'm a Stranger Here Myself uitgegee- ek kon dit nie beter gestel het nie.