Wednesday, April 24, 2013

Hoe dit ruik en ander dinge

Die gematigde klimaat en plantegroei herinner sterk aan Suid Afrika.  Ons het in 'n waas hier geland na 'n lang vlug en spanningsvolle drie maande van regmaak, inpak, afsluit en afskeid.  Ek kan so goed onthou hoe ek na prentjies van woonstelle en huise hier gekyk het, en my kop probeer oortuig dis waarheen ons regtig trek.  Maar toe ons land was dit besonders om die bloekombome te sien; hier net so pes soos in SA.   'n Welkome pes.  Dis verder nou Lente en die tuine is vol reuke van die huis:  perskebloeisels, rose en so meer. En stinkgoggas, wanneer laas het ek 'n stinkgogga gesien!

My gunsteling die tyd van die jaar vir jasmyn, en bloeisels.  Dit is nou die seisoen wat bome vol belofte van komende vrugte raak.  Baie mense laat egter hul vrugte vergaan, dis erg om verby 'n boom te stap wat kreun van lemoene/pruime/suurlemoene/loquats. Toe ek jonk was, het ek en my broer gereeld gaan perskes steel by ons buurman.  Hier sal ek dit nie waag nie - te bang vir al die gewere.

'n Suurlemoenboom in ons straat

No comments:

Post a Comment